SA Design .co.za

  

WAAR WAS JY?

‘Waar was jy?,’ vra die man met die rooi hoed en die teelepel wat by sy gatsak uitsteek.
‘Wie wil weet en waarom?,’ vra sy tingerig opstandig.
‘Ek is die man met die rooi hoed. Hulle moes jou van my gewaarsku het,’ sê hy en waai ‘n nat sakdoek vermakerig voor haar gesig verby.
Sy neem ‘n treetjie terug – effens uit die veld geslaan en heelwat afgesit.
‘Meneer, hoekom moet ek van jou weet? Ek ken jou klaarblyklik nie!’ Haar hand beweeg huiwerig na haar hals en trek toe wat nie ontbloot moet wees nie. Veral nie in sulke situasies nie.
‘Ek wil jou ook net in kennis stel dat ek alreeds laat vir ‘n vergadering is en dat ek nie baie tyd het nie,’ voeg sy by.
‘Mevrou…,’ begin hy.
‘Mejuffrou…,’ korrigeer sy.
‘Verskoon my uitbundigheid,’ gaan hy voort, ‘maar ek is die man met die rooi hoed...’
Hy haal die teelepel uit sy sak en vou die nat sakdoek noukeurig daarom. ‘…en ek vra jou nou: waar was jy?’
Sy weet nie wat om te sê of te doen nie, en die man se afwagtende oë laat haar naak voel.

‘Meneer…,’ begin sy.
‘Doktor,’ korrigeer hy.
‘Ag verskoon tog…dokter,’
‘Doktor,’ help hy haar tevrede reg.
‘Jammer doktor, maar jy het seker die verkeerde persoon beet. Eintlik…ek is doodseker jy het die verkeerde persoon beet.’
Die man kyk geskok na haar en begin senuagtig speel met sy groen das met die vrolike geel hasies op.
‘Mevrou, ek…ek moet om verskoning…,’ mompel hy dan, voordat hy vinnig omdraai en met ‘n skewe drafstap by die lang, glansende wit gang af wegvlug. Sy voel skielik sleg en probeer agter hom aanroep ‘Dis maar net omdat ek die president moet ontmoet. Ek’s jammer as ek ongeduldig voorkom!’
Maar die man met die rooi hoed was al lankal buite hoorafstand.

Twee persone in wit jasse en met intelligente uitdrukkings op hulle gesigte beskou die petalje op ‘n afstand. Die een begin dan naarstiglik deur ‘n hoop notas blaai. Die ander draai na hom en sê snediglik: ‘Geagte kollega, dit blyk dat jou eksperiment ‘n wanbegrip gebaseer op ‘n hallusinasie is. Daar is duidelik geen manier om ‘n megalomaniese pasiënt en ‘n kleurblind skitsofreen teenoor mekaar af te speel vir ‘n wesentlike positiewe resultaat nie. Ek is bevrees dat die beheerraad hiervan sal hoor.’

Die spreker draai met minagting om, skuif die goue kroon op sy kop windmakerig skeef en loop die glansende gang af, terwyl sy gekastyde kollega ongelukkig onder sy wit, gepoeierde pruik krap en wonder: ‘Waar is ek?’

© Etienne A.  Marais –  2006